Gotenburg

Gotenburg
Göteborg

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Swede Swede
 Landskappe Västergötland,
Bohuslän
en Halland
 Län Västra Götaland
 Koördinate 57°42′N 11°58′O / 57.700°N 11.967°O / 57.700; 11.967
 Stigting 1621
 Oppervlakte:  
 - Totaal (kommun) 1 025,32 vk km[1]
 - waarvan tätort (kernstad) 203,67 vk km
 - water 14,5 vk km
 Hoogte bo seevlak 12 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2023) 604 616[2]
 - Bevolkingsdigtheid (kommun) 589,7/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 058 278
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat[3]  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,8 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie –0,9 / 16,6 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 791 mm
 Burgemeester Axel Josefson (M)
 Amptelike webwerf www.goteborg.se

Gotenburg (Sweeds: Göteborg, [jœtɛˈbɔrj], ) is die tweede grootste stad van Swede ná die hoofstad Stockholm en die vyfde grootste in Skandinawië met 'n bevolking van sowat 600 000 in die stad (Sweeds: tätorten) en meer as 1 000 000 in die metropolitaanse gebied van Storgöteborg ("Groot-Gotenburg"). Gotenburg is aan die weskus van Swede naby die monding van die rivier Göta älv in die Kattegat geleë.

Die hawegebied Lilla Bommen in Gotenburg

Die geografies gunstige ligging halfpad tussen Stockholm, Kopenhagen en Oslo het van Gotenburg die beduidendste seehawe vir vrag- en passasierskepe in Noord-Europa gemaak. Die Gotenburghawe hanteer met jaarliks 30 miljoen ton vrag 'n groot deel van Swede se in- en uitvoere en moderne passasierskepe van rederye soos Stena Line en Scandinavian Seaways doen hier aan en vervoer jaarliks meer as vier miljoen passasiers uit Denemarke, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Nederland na Swede. Die tradisionele skeepsbou het vanweë die sterk mededinging uit die Verre Ooste lankal agteruitgegaan, maar Gotenburg is nog steeds 'n beduidende nywerheidsentrum en die tuiste van groot maatskappye soos die motorvervaardiger Volvo, SKF (koeëllaers) en Hasselblad (kameras) se hoofkwartiere. Die ryk kulturele lewe het van Gotenburg een van die leidende kunsmetropole in Skandinawië gemaak.

Die huidige stad is reeds die tweede wat die naam Gotenburg dra. Die historiese voorloper is deur koning Karl IX op die nabygeleë eiland Hisingen gestig en in 1611 deur Deense en Noorse troepe verwoes. Vanaf 1621 is op inisiatief van koning Gustav II Adolf 'n nuwe stad deur Nederlandse ingenieurs opgerig. Die terrein is opsetlik gekies – die Deense koning Christiaan IV, 'n aartsvyand van Gustav II Adolf, was hier in oorlogstye nie in staat om sy swaar kanonne te gebruik nie.

Gotenburg is volgens die tipiese voorbeeld van 'n Nederlandse stad uit die 16de en 17de eeu met kanale, twintig brûe en 'n vesting beplan en gebou. Die eerste stadsraad het naas sewe Swede en 'n Skot ook uit tien verteenwoordigers van die plaaslike Nederlandse bevolking bestaan. Alhoewel twee kanale intussen toegegooi is om plek te maak vir twee strate, Östra en Västra Hamngatan, het die stadsentrum van Gotenburg sy Nederlandse karakter grotendeels bewaar.

  1. (en) "Square kilometre by region, type of area and year". Statistiek Swede. 2024. Besoek op 11 Mei 2024.
  2. (sv) "Folkmängd och befolkningsförändringar – Kvartal 4, 2023". Statistiek Swede. 22 Februarie 2024. Besoek op 11 Mei 2024.
  3. (de) Bernhard Mühr: Die klimaat van Gotenburg

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search